Jacques van Zyl se blok?


Avatar Pandora toe!
February 4, 2010, 9:29 vm
Filed under: Uncategorized

Ek het lyk my onder ‘n klip gewoon sedert middel Desember 2009. Want ek het geweet van ‘n film met die naam Avatar, maar het nie eens geweet waaroor dit handel nie. Tot verlede week, toe ek gehoor het jy kan dit in drie dimensies kyk. Ek het dadelik vir my en my vriend Cobus kaartjies bespreek en kinderlik gewag tot gister namiddag om dit te gaan kyk. Gelukkig vir my beskik Tyger Vallei se SterKinekor oor ‘n 3D projektor stelsel bedryf.

Al wat ek gehoor het oor die film was dat mense het vir “aliens” gaan help beklei op hulle planeet.

EN WATTER UNDERSTATEMENT WAS DAAI NET NIE.

Die film is eenvoudig net briljant – en die bril het beslis bygedra tot dit! Dit was ‘n pragtige avontuur van die begin af met ‘n baie mooi storie en fantastiese effekte en karakters en landskappe. Hierdie is BESLIS by verre die beste film belewenis wat ek nog gehad het.  nog in 3 dimensies. Hoe het ek die oorlog oorleef!

Ek gaan niks oor die storie vertel nie – want jy het dit of al gesien, of jy gaan dit nog wil sien. Weet net dit – BRILJANT!!!!!!

Ek sit vandag in my kantoor en mis die karakters…



Jou biker jy…
February 3, 2010, 10:56 vm
Filed under: Uncategorized

Ek het redelik onlangs begin motorfiets ry. Nie weens ‘n tekort aan wil nie. Dit was nog altyd ‘n droom van my van kindsbeen af. Maar weens my ma se vrees vir om in die Conradie Hospitaal te beland, het dit nooit gerealiseer nie. Maar verlede jaar het ek besluit dis tyd.

Ek het my leerlingslisensie vir motorfietse bo 125cc gaan skryf die week net voor klein Jacques se geboorte. En so op my vriend Cobus Honda CBX250 Twister op NG La Rochelle se gronde geleer ry. Junie maand verlede jaar het ek egter besluit dis tyd vir my eie wiele, en so koop ek toe ook vir my ‘n Twister – ‘n rooi ene…

Ek dit vir drie maande besit voordat ek besluit het ek het iets meer nodig – die fiets is te lig. So het ek na ‘n harde gevryery agter ‘n Harley Davidson Sportster 1200 Custom, vir my ‘n silver 2005 Honda VFR 800 VTec gekoop. Dit is ‘n lieflike fiets voorwaar. Die mense by Honda Kaapstad het dit nogal baie snaaks gevind dat ek letterlik drie maande later my splinter nuwe CBX (met net 800km op die ODO)  inruil vir die VFR.

Die nuwe swaarder fiets het nie sonder stampe en stote gekom nie. ‘n Week nadat ek dit gekoop het, het ek die fiets reg voor Honda se deur laat omval en so die linker spieeltjie afgebreek. Gepraat van ‘n laagte punt. EN die vrou se toorn tuis was NOG erger.

Maar ek en Ventura (die VFR se naam) verstaan mekaar nou baie goed en is ons soos vinkel en koljander. Ek tik haar so op die tenk na elke rit om dankie te se. ‘n Regte voorslag op die pad!

Maar die storie is eintlik oor my buurman. Gister aand kom hy die eerste keer na my toe sedert ek die fiets gekoop het om vir my te vertel hy was ook ‘n “biker” op sy dae. En so vertel hy my die stories van hoe hy met sy bike rondgerits het en biker klub vergaderings bygewoon het by die Kilarney Hotel. En hoe sy klub presedent gate in sy motorfietse se enjin blik geskiet het nadat hy ‘n “bearing” gegooi het.

Die ironieste vir my was hoe hy een oomblik vertel van met yster goons in jou sak ry en dan as die motorbestuurder jou probleme gee, die goons op die pad te gooi sodat dit sy windskerm breek. En dan net daarna spreek hy sy verwondering uit dat mense nie van “bikers” hou nie…

Ek het maar stil gebly en hom begaan. Want jy sien, ek is seker maar net ‘n “commuting motorcyclist”. Ek ondersteun Think Bike en dra ‘n helder geel oorjas met die Think Bike logo daarop. Ek ry in die spoedgrens en gooi nie goons op die grond of slaan mense se spieels nie. Ek gebruik my flikker voor ek bane verwissel en ek se dankie vir mense wat vir my beweeg spasie gee. Ek “lane split” stadig en gee motors spasie wanneer hulle voor my baan wil verwissel.

So in kort dan, mens kry drie tipe motorfiets ryers:

  1. Die geharde bikers wat kwaai is en hulle eie beskerm en leef op sy motorfiets
  2. Die entoesias wat ry geniet en ook werk toe ry op sy fiets
  3. Die werk toe ryer bloot omdat dit goedkoop is.

So wanneer jy weer ‘n motorfiets ryer sien, moenie dadelik dink die ou is ‘n maniak nie. Hy kan dalk maar net oppad wees van die winkel af omdat hy panado stopies vir sy kleintjie by huis moes gaan koop…

Ek en my Ventura!



Driehoek en Sirkel 2
February 2, 2010, 12:31 nm
Filed under: Uncategorized

“Awe sirkel!”

Nog ‘n driehoek en Sirkel deur Johan Swarts aka Gormendizer (sien skakel links) is HIER te siene…

Om jou te help:

Wie is Dan Roodt

Wat is Strafe Jumping en Rocket Jumping

Wat is ‘n iPad

Geniet



Voed my lewer 2
February 2, 2010, 12:11 nm
Filed under: Uncategorized

Nou ja. So te se ‘n week is verby sedert die nuwe gesondeet veldtog geloots is in ons huis. En merkwaardig – dit voel of dit werk.

Ons het besluit om nie te mal te raak met die afsny of vermyding van seker kossoorte nie, maar het basies begin oplet na die koolhidraat inhoud van kosse, skyfies en witbrood vermy, lekker volgraanbrood gekoop en gerooster. Meer gebalanseerd geeet. Meer gereeld geeet ook. Byvoorbeeld: eet nie later as een uur na ons opstaan nie. Dan ‘n “snack” halfpad na middagete soos ‘n vrug of Provita. Dan ‘n lekker middagete – ook gebalanseerd en dan weer ‘n snack teen 3nm en dan aandete.

Dan probeer ons om 30 minute per dag te oefen so gereeld ons kan.

My gewigstoename het vasgesteek by 79.5kg en ek is nou op 77.5kg. My vrou het by 60.5 omgedraai en is nou terug by 59.5kg

Ten spyte van due gewigsverlies, voel ek beslis al bietjie beter oor die manier hoe ons eet. So het ons uit die Huisgenoot geleer om brocoli en blomkool met ‘n hoenderblokkie te verpulp en op te dis as ‘n tipe sous saam met jou vleis. En ek kan bevestig dat dit saam met ‘n hoender fillet is absoluut hemelsoentjies!

So nou eet ons brocoli en blomkool ook! Dit al klaar is ‘n wonderwerk. Ons sukkel nog net met die seldery – het dit gekoop, maar nog nie geeet nie. Die Provitas en maaskaas (lae vet) met bietjie soet rissie sous is ‘n wenner as jy begin belustig raak – gewoonlik maar rondom snack tyd…

Kom ons kyk hoe lyk die tweede week :-)



Jan de Wet – jou goeie mens!
Januarie 26, 2010, 10:46 vm
Filed under: Uncategorized

Ons het vir Anja Jan de Wet se DVD gekoop met die kleueter bybel en die lof kleuters liedjies op. Anja is dol daaroor en sy sing die liedjies lekker saam en wys so saam met die kleintjies op die skerm. En dan sing “oom Jan” ook saam en so bring hy in ons huis iets onspreekbaar mooi.

Ons het ook die Skouspel 10 DVD gekoop, en daar kry Jan de Wet ook ‘n kans om te sing en kry hy ‘n toekenning saam met ‘n paar ander legendariese kunstenaars in Suid Afrika. Anja was so bly om oom Jan te sien, dat sy eintlik teleurgesteld was toe sy kort verskyning klaar was. “Kom oom Jan weer sing?” Wil sy weet. “Nee poppie,  oom Jan is nou eers klaar.” moet ek maar troos.

In elkgeval – die punt is: Dankie Jan de Wet vir die werk wat jy doen met die kleintjies en die mooi wat jy in ons huise bring. Jou gesig straal liefde en jy seen ons kinders daarmee. En omdat ek jou nie persoonlik kan bel en dit se nie, post ek dit maar hier en hoop iemand wat jou ken lees dit en dra dit aan jou oor!



Driehoek en Sirkel
Januarie 26, 2010, 8:00 vm
Filed under: Uncategorized

Stultus media of dan Gormendizer of Johan Swarts (hoe jy hom ookal ken) is besig met ‘n baie oulike reeks van die lief en leed van ‘n driehoek en ‘n sirkel.

Driehoek begroet sy ronde mater altyd met “AWEEEEEEE SIRKEL!”

Gaan kyk dit hier op YouTube…

http://www.youtube.com/results?search_query=driehoek+en+sirkel&search_type=&aq=f

Of op Gormendizer se webtuiste by die skakel links.

Johan se leerkurwe is beslis sigbaar in sy eerste drie episodes. Die derde een oortref natuurlik die eerste twee in kwaliteit. Dit laat my dink aan rooi en blou, die rooi die klein slim rooi bolletjie en blou die groot blou en effe stadige bol.

Geniet dit!



Voed my lewer!
Januarie 26, 2010, 7:47 vm
Filed under: Uncategorized

Ons koop selde die Huisgenoot. Ons kry dit wel gedurig vanaf my ma wanneer sy dit die dag uiteindelik opgelees het, so ‘n maand of twee na die publiseringsdatum. Maar gister het my vrou tydens ‘n onbeplande kuier by Checkers gevra vir ‘n Huisgenoot. NATUURLIK stem ek in en ons koop dit. Daar lees ek van Metabolisme B.

Ek is ‘n leek wat die tipe goed aan betref, maar die artikel is baie oulik geskryf en daar is baie handige vinnige verwysing tabelle. Wat dit op neerkom, is dat jou liggaam soortvan oorversadig word met ‘n hoe koolidraat dieet en dan daar tipe reserwes in jou lewer opgaar as energiebron wat weer oormatige insulien vrystellings bevorder en so later tot diabetes kan lei. (gaats ek hoop ke verstaan dit reg – in ieder geval, dis nie ‘n goeie senario nie)

Met die artikel, neem dit jou lyf op ‘n regstellende aksie wat as stap 1 jou gaan skoonmaak van jou normale hoë koolidraat dieet sodat jou lyf geforseer word om alternatiewe energiebronne aan te wend – jou vet! Dis hoekom mense wat aan die tipe wanvoeding lei sukkel om van daai tjoepie ontslae te raak, want jy verbrand jou lewer reserwes (wat lyk my ‘n vinnige korttermyn voorraad moet wees) in plaas van jou vet reserwes.

Vir AGT weke moet jy nou sonder brood en pasta en basies alles wat jy gewoonlik as lekker geag het gaan sodat jou lyf kan begin rehabiliteer. Na die agt weke word dit weer in beperkte hoeveelhede in die dieet teruggebring (hoop ek!). Goed wat jy mag eet is vir die agt weke bevat geen koolidrate nie. Daar is egter as troosprys ‘n beperkte lys van goed wat jy kan eet wat minimale koolidrate bevat. Van dit mag jy net so eet sodat jy nie meer as 5g per 5uur siklus koolidrate in neem nie.Een snytjie Albany premium brood bevat bv 17g netto koolidrate! Dus, ‘n toebroodjie met oenskynlik gesonde goete op plus bietjie mayo sal jou oor die 34g koolidrate toevoeg tot jou stelsel. Nogal baie lyk dit my as mens kyk na die 5g per 5uur gedagte…

Die skrywer noem ook tereg dat dit baie ongebalanseerd is om in jou normale dieet koolidrate te vermy, maar dat dit slegs vir die agt weke termyn is om jou lyf in rat te kry.

SO…

Aangesien ek nou die afgelope jaar konstant gewig begin optel het (tenspyte van die feit dat ek relatief min eet) vanaf 75kg na nou amper 80kg, en ek so lastige maag het wat my van ‘n 32 broek na ‘n trotse 34 gebons het, EN my vrou aan die dieselfde probleme lei, genoeg kommas nou – gaan ons die herstelwerk saam met Huisgenoot aanpak. My familie is besaai met mense wat diabetes het, so die risiko is wesenlik. En die tjoepie!!!!

Kom ons kyk of ons kan deurdruk. Ek sal verslag doen!



K53 my senuwees in hulle kanon in
Januarie 20, 2010, 8:45 vm
Filed under: Uncategorized

Ek het Maandag vir my K53 motorfiets lisensie toets gegaan by die Bellville toetsbaan.

Dit het baie slegte herinneringe teruggebring van my motorlisensie dae. ‘n Baie sleg ding is daardie stilte voor die storm as jy so langs die bestuurskool motorfiets staan en wonder of jy nou regtig die masjien tussen die geverfde treinspore kan hou. En ek hoop tog so die ou wat my toets het ‘n gryntjie genade in sy oge.

My vriend was voor my aan die beurt. En so staan ek in vrees en kyk hoe hy die een toets na die ander afhandel. Nie vrees vir hom nie, maar vrees vir my. Daar sien ek vergeet hy van ‘n observasie. En ek sien hy sien die beampte maak ‘n merkie dat hy dit OOK gesien het. Ons het lekker daaroor gelag na die tyd, dit was nie so lekker toe dit gebeur nie.

Maar hulle stap af van die baan en hy gaan kry sy papiere – hy is deur. My beurt.

Billy van Bike Safe Academy stap eerste uit en kom praat my moed in: “Onthou jou observasies en moenie die lyne raak ry nie en jy is ok.”

Hy beduie my na die middel treinspoor en se ek moet solank daar gaan parkeer en wag vir die toetsbeampte. Ek maak so. Die toetsbeampte kom uit en ek kyk hom aan met ‘n vraagteken op my gesig – is hy vriendelik of nie. En so met sy aanstap steek hy sy hand uit en groet my vriendelik. Ek groet terug. Hy vra my so mooi om die voorrit inspeksie te doen, en ek begin. Halfpad deur stop hy my en wys sy tevredenheid. En so begin die toets. Die beampte se instruksies was as volg: “Die belangrike ding is om nie van jou motorfiets af te val nie, en moet nie die lyne raak ry nie. En onthou asseblief jou observasies. Dan sal alles goed afloop.” Ai hoe wonderlik was daardie woorde nie op my ore nie!

Eerste toets:

Trek weg en in 2de kruis die spoedmeter tussen 20 – 25kph en stop op die kruis.

Tweede toets:

Terug na die treinspoor begin en nou vir die regs baan verandering. Hou tussen die lyne, observeer en sein en observeer en verander baan na regs tussen die twee spoedmeter lyne en stop in die boks.

Derde toets:

Ry om na die verste hoek vir die linksdraai toets. Trek weg, kom in 2de, hou binne die buitelyn, observeer en sein links, observeer, draai skerp links tussen die lyne en stop by die stopstaat. Observeer, sein links, observeer en trek weg en draai weet links en dan…

Vierde toets:

Ry sommer dadelik na die bult en gaan stop by die stopstraat. Observeer en trek weg sonder om te rol en stop op die T.

Vyfde toets:

Observeer en ry deur die regsdraai piesang sonder om die lyne te raak tussen 20-25kph en stop op die T (net ek hoef nie op die T te gestop het nie – ry sommer oor die T en draai buite die toets area en kom terug en wag op die T op aandrang van die toetsbeampte :-) ) – observeer en ry die piesang weer van die ander kant af en stop op die T.

Sesde toets:

Terug by die treinspoor. Observeer en trek weg tussen die lyne, kom in tweede rat, kruis die spoedmeter en wag vir een van drie ligte om jou te beveel wat om te doen. Verwag twee rooi stop ligte, een links en een regs swenk ligte. Die toets doen jy dus vier keer.

KLAAR EN DEUR. Ek was so bly, dat ek sommer my vriend ‘n buddy drukkie moes gee. Ek is verheug en bly dis vir altyd klaar!

Dankie aan Billy van Bike Safe Academy – jy is tops! En die toetsbeampte – jy is ‘n goeie mens!



‘n Lewe in ‘n herinnering
Januarie 14, 2010, 9:12 vm
Filed under: Uncategorized

So 20 jaar gelede het daar mense oorkant ons gewoon met tween kinders. Die oudste was ‘n dogtertjie (omtrent 5-6 jaar jonger as ek) en haar kleinboetie. Hulle het verhuis na Touwsrivier om daar ‘n restaurant te bedryf.

Sedert dan het die man en vrou geskei en ek het uiteraard met hulle verhuis kontak verloor met die kinders. Ek en die dogtertjie was groot pelle gewees. Ek het menigte dae in hulle huis deurgebring met popspeel en boomklim. So onthou ek het ek met afloop van so ‘n popspeel sessie by hulle huis begeesterd by my huis my He-man mannetjie getooi in ‘n sakdoek en stylvol ‘n gordel van rubber rek gemaak. My ma was minder entoesiasties oor die nuwe speel neiging en het dit in die kiem gesmoor…

Maar ‘n jaar of twee gelede het ek die idee gekry om haar naam te skype soek om sommer ‘n kans te waag – dalk kan ek haar opspoor. En sowaar, haar naam was op die soekresultaat. Ek het haar gekontak en dit was sowaar sy. Dit was vir my so lekker om weer met haar te kon gesels, dat ek dalk bietjie TE gretig oorgekom het.

Sy kon nie veel onthou van my nie, anders as dat daar so ‘n mens was en dat ek Smurfies versamel het.  En so het sy weer gekies om kontak te verbreek deur net nie meer haar skype aan te skakel nie. En ek voel soos ‘n “stalker”!

Na bietjie nadenke het ek die volgende besef: Sy was maar graad 1 of 2 toe hulle verhuis het – maw sy het maar min herinneringe van my, ek was al 11 of so, so ek onthou meer van haar as sy van my. Sy het ‘n groter persentasie van haar lewe op ander plekke beleef en sonder my as herinnering. Vir my was sy ‘n goeie vriendin, vir haar is ek ‘n vae herinnering…

Dit laat my eintlik bietjie hartseer.



Baba voorraad
Januarie 11, 2010, 1:43 nm
Filed under: Uncategorized

Ousus en kleinboet

Ai, babas is baie soos motorfietse. Veral as dit by die diens daarvan kom. Hulle is pragtig en lekker om mee te speel. Maar hulle benodig ook dienste elke nou en dan en kan gou gou onstabiel raak as iets nie versien word nie.

Hier is die goete wat ons gebruik vir klein Jacques se dienste:

Gatsalfies – Bennets se bum cream – Checkers het somtyds twee klein potjies vir minder as een groot pot se koste

Wipes – Pampers se alloe vera – jy kry ‘n tweepak vir R30 by Toys R Us

Doeke – Pampers se reeks – goeie doek en ons kry Vitality afslag – maak net seker jy koop die een met die rekbare band (nuwer voorraad)

Wasmiddel – Crayons se baby wash – ryk baie baie lekker en sag op baba se vel – Jakie het maar ‘n sensitiewe vel

Meds: (hierdie is standaard voorraad om ALTYD in die huis te he)

Panado Ped stropie (aarbei) – vir koors meestal

Ponstel (nie Ponstan nie) – hierdie goed het ‘n lekker minty smaak – kry maar die GROOT bottel – vir seer keel en koors. Ons noem dit beertjie want daar is ‘n beertjie op die bottel (dit werk vir die kleintjies :-) )

Demazine – vir slym en snotterasies. Ons noem dit baba want daar is ‘n….. julle kry die idee.

Teejel – vir die seer tandvleisies as die tande begin pla

Nurofen Ped – hierdie is hardcore koorsmeds – vir as Panado nie meer werk nie – fantastiese goed en jy kry ‘n baie handige meds spuitjie by. Dis egter nie iets wat jy die hele tyd vir die kind ingee nie – as dit nie werk nie, sal jy dalk maar ‘n dokter moet raadpleeg

As ek reg onthou is sommige van die goete nie aan te beveel vir kleintjies onder 6 maande nie  en dit hang ook af van die gewig van die baba (xg/kg masse ens). Jacques is nou 8 maande en kry nou van als in.

Jakie het baie seer boutjies gehad en dit het selfs bietjie gebloei op ‘n stadium in sy baie early days. Goeie raad van die ouer geslag – stof sy hollie met Maizena af (Mielieblom). Wondermiddel!

Daarsy – verder word babas groot op BAIE soentjies en drukkies. Wat is dan nou lekkerder as om jou kleintjie so teen jou te hou en sy dun haartjies teen jou mond te vry en te ruik…………

Hierdie is die middele wat ons gebruik en beteken nie noodwendig dat dut vir jou gaan werk nie. Die beste is om eers (veral rondom die meds) met jou pediater te konsulteer voor jy dit aanskaf of gebruik.