Filed under: Uncategorized
Ons het ‘n week of twee gelede ‘n portapool gekoop. ‘n Allemintige 4m x 1m kollos! My vrou wou he ek moet die ding in die grond sit. Dus moes ek my voorberei om ‘n gat van 4.5m x 1m te grawe. Dis meer as ‘n kleinhuise vol sand. Maar, die stelsel van vandag laat geen mens meer toe om enigiets sommer net te doen op sy eie grond nie. Dus moes ‘n planman ingeroep word om dit als op papier vas te le. Die implikasie is dat die swembad se prys onmiddelik met 16% toeneem! Sommer net so.
Die arme planman was nog nooit met die konsep van ‘n portapool in die grond gekonfronteer nie. So het ons begin saampraat en bespiegel oor wat en hoe en waar. Die uiteinde was dat die munisipaleit eintlik baie besorg is oor die veiligheid om die swembad synde hekkies met springe wat self toemaak. Nee wat, die projek raak nou te duur. Die planman is hier weg met my plan en die onsekere taak om die spul op teken te stel. Na ek en die vrou daaroor gekonsulteer het, bel ek die man en laat hom weet dat hy dit maar moet los. Die ding gaan nie werk nie. Hy was duidelik bietjie teleurgesteld (vanaand se Spur was seker daarmee heen).
Nou is ek besig om grassooie uit te steek tydens my studie breaks en ‘n knus holte te skep vir die swembad…meer na vervaardigers specs – 4m x 0.15m <— baie beter op die rug!
Anyways… die vooruitsig van lekker in die blou poel rond spartel tydens die warm dae wat kom, is beslis ‘n incentive!
Filed under: Uncategorized
Ons raak nou regulars by die genikoloog. Elke maand moes ons opdaag vir ‘n scan en info sessie oor die vrou se swangerskap. Dis eintlik nogal heel oulik. Wanneer jy opdaag (as vrou natuurlik) word daar ‘n klein houertjie aan jou oorhandig waatin jy ‘n ou sample-tjie moet los vir toetse. Dus, verdwyn mamma om die hoek met haar houertjie, en verskyn bietjie later met die sample.
So sit jy maar en lees mags en kyk pics van vorige bevallings tot dit jou beurt is vir “inspeksie”. Dis nou hier waar die lekker goed gebeur. Die dokter gries vir mamma op en dan scan sy die baba deur ma se maag. Ons kan dan lekker kyk hoe baba haar tone trek en tong uitsteek. Dis natuurlik eers redelik ver in die swangerskap. In die early days sien jy net ‘n stofwolkie wat rond warrel. Die dokter wys vir jou allerhande interessanthede oor die baba, waarna jy dan slaafs “ja” antwoord aangesien jy nie regtig weet waarna jy kyk nie…
Die job waar die dokter eintlik die baba uithaal word “verloskunde” genoem. Now I ask you. Dit klink so negatief. “Kry net asb die %^&%$ ding uit my!!!” <—- verloskunde ‘n Beter benaming kon dalk iets soos “ontnemingkunde” of “ontrekkingskunde” wees. Wat van “downloadkunde”?
Johan – dalk is dit waar “verlos” ons van die bose vandaan kom????
Filed under: Uncategorized
Heng, om ‘n huis te he is crap baie werk. Soos ek nou hier in my bed sit terwyl my vrou rustig in droomland rond fladder, stapel die jobs gevaarlik hoog in my gedagte gange op. Gedagte gange… net nie dit nie. Dalk is daar ook nog teel en verf werk nodig.
Gepraat van teel, ek moet nog die braai klaar teel, en grassooie verskuif en inplant…
Die grootste job wat voorle is ‘n gat wat ek moet grawe in ons agtertuin om ‘n swembad in te sit. Dis nou sommer ‘n lekker tydverdryf (iets wat tyd veg werk? – verdryf?) Leer twee ure, grawe gat, leer twee ure, pieppie, grawe gat. Eet…
Verfwerk wat nog nie klaar is nie, want eks nog besig om die koesyne se krake op te vul, die afgelope jaar al. Skaamteloos moet ek ruiterlik erken. Ten minste werk die plumbing onder die kombuis wasbak nou. Wragtag. Dis nou een job wat NOOIT in my lewe sal doen nie. Loodgieter. Ek reken loodgieters giet nie meer lood nie. Hulle… plak pvc… pvcplakkers…hmm
Ons het vandag die oulikste blommetjies geplant. kan jy glo. ‘n Hele bedding vol vir onder R100. Daar is hoop. Pienk vygies, wit vygies, ‘n onbekende boom wat 15cm hoog gaan word, sulke mooi regop oranje blommetjies en dan pienk en pers lapagtige blomme. Ons sal eersdaags ( = na pay day) nog gaan aanskaf.
Een van die kasdeure het nou die dag amper op my vrou se kop geval. Dus, ek moet gaan skroewe koop om die ding weer op sy plek vas te skroef. Dis ook nou al etlike maande over due. Lyk my jobs hier le vir ‘n tydperk van 6 maande voor hulle mature en dan doen ek dit. Of soms beveel die vrou sterk aan dat die prioriteit van die rangorde bietjie skuif, nou ja, dan is dit seker so.
Tjorts!
Filed under: Uncategorized
Ek het verlede Sondag snoek gebraai. Dit was ‘n klein snoekie, maar nie te min lekker. Een van die perks van by ‘n visfabriek werk is so ‘n af en toe vismeevallertjie.
Dankie tog die ding is reeds gevlek. Mooi skoon, lig gesout en ready to go!
EK het ‘n hele sak rooikrans opgebrand om seker te maak ek het genoeg kole. Na die hittetjie lekker reg is plaas ek die snoekie velkant eerste op die rooster. Hmmm. Hy simmereer sommer dadelik. Smeer so bietjie gesmelte botter en knoffel gemeng met ‘n bietjie gemmer so oor die vissie vir ekstra smaak. Instussen het my vrou en haar sus ‘n potbrood in die oond aan mekaar geslaan.
Mens kan sien hoe die visvleis witter word van onder af soos die gaarheid hom deur werk. As die vis so 3/4 deur gaar is, draai die snoek op sy vleiskant. Laat hom nou nog braai.
Na ‘n kleine rukkie is dit ‘n goeie tyd om te begin peusel en proe of die vissie reg is.
Ons het die snoek bedien met ‘n heerlike tamatie smoortjie (my idee) en potbrood.
Vingerleklekker!!! – en eks nie eens mal oor vis nie
Filed under: Uncategorized
‘n Paar jaar gelede het Hachette ‘n projek Titanic bekend gestel waartydens jy ‘n model van hout kon bou van die Titanic. Die ding sou oor 100 weeklikse uitgawes bestaan wat elk R50 kos. Elke week draf jy af CNA toe, gaan koop jou stukkie vir die week en neem dit huis toe vir konstruksie.
Na ‘n paar weke begin die projek agter raak. Die vrou soek aandag, werk, huisonderhoud, ouers, skoon ouers. Alles anti model bou elemente. Tog koop ek voort en na twee jaar besit ek al die dele…
Dit was twee jaar gelede.
Ek trek nou by week 50. Die Titanic lyk darem nou al soos die Titanic. Die uitdaging is natuurlik nou die moeder van ALLE anti model elemente…. ANJA. Die klein mensie sal natuurlik die meeste van my tyd in beslag neem naas huisonderhoud en die vrou.
Dis lekker om terug te dink oor wat al alles gebeur sedert daardie eerste magiese dag wat ek Part 1 of 100 gaan koop het. Ek het my werk verloor, getrek van een woonstel na ‘n ander, ‘n nuwe werk gekry, die woonstel verloor, by my skoonouers ingetrek in ‘n 3×3 kamer. Al ons tuff was in my ma se garage gestoor vir 2 maande. Ons het ‘n huis gekoop, ingetrek, geverf, aangebou, swanger geraak en gaan eersdaags die baba ontvang. Wow, so baie herinneringe aan een stuk gelapte stukkies hout.
Die boot sal beslis ‘n erfstuk moet raak met ‘n boek by van die geskiedenis wat daarmee saamgaan…
Filed under: Uncategorized
Ek ry nou die dag St Helenabaai toe. Die hele Weskus is so groen dat dit omtrent soos Ingeland lyk. Nie dat ek al ooit daar was nie, maar ek kan my indink. Ook vreemde weer deesdae. Dis warm, maar effe bewolk. Nie reen wolke nie. Net so vaal en ver.
In St Helens was die water so glad soos jy jou nie kan indink nie. Tog mooi. Later die dag met hoogwater het dit omtrent gelyk of die water kook. Maar as jy St Helenabaai ken, dan weet jy daar is GEEN branders nie. Ek dink die water in die Malawi meer is woester as daar.
Oppad soentoe sien ek die gerwe staan en so waar as waar lyk die goete nes die grasagtige prentjie hierbo. Wit stammetjie en groen halmpie. Te mooi. Ek waag my my lewe met ‘n drive by shooting met my mobile kamera. Kyk dan net die foto…![]()
St Helens is egter nie juis die blomme aantreklikheids mecca van die Weskus nie. Daar is net twee soorte blomme. Wittes en geeles. Ek reken die res het hulle goed gepak en geloop weens oormatige wind en stank. Stank? Ja, want die plek het nie net een nie, maar drie volstoom stink kwadraat vismeelfabrieke. Een by Slippersbaai, een in Sandy Point hawe en een in Stompneusbaai. Niemand is veilig nie.
Gelukkig is die mens aanpasbaar. Na ‘n tyd raak jou brein se sintuiglikheid verniel dat jy niks meer ruik nie. Ok, dis ‘n vet leun, maar at least raak jy nie meer naar nie…
