Filed under: Uncategorized
(waarskuwing – die post bevat die woord drol en verwante bietjies te veel dalk en daar is ook ‘n foto van een heel onder!)
Anja het ‘n slegte maagaandoening opgedoen verlede week. Dit het begin met haar wat elke bietjie kos wat sy eet weer opbring. Na baie sukkel en wonder moes ons haar maar pediater toe neem.
Daar verneem ons toe dat sy ‘n baie ongelukkige sameloop van omstandighede beleef: seerkeel, seer ore, seer tandvleisies, en nou seer magie. Die pediater laat toe weet dat haar seer keel maak dat sy sukkel om te eet. Ons moes meds koop vir die seer keel, vir slym, vir hoes en vir naar.
Die probleem het egter ‘n stappie erger geraak toe die eerste slap doek sy verskyning begin maak. Nou kon Anja eet en sy raak nie meer naar nie, maar sy maak net waterblertsies. Niks meer melkies vir haar nie!!
Die naweek was die piek van die probleem waar ons ‘n nuwe doek aansit en 2 minute later blerts sy die suur waterpoefies. Dan is dit weer afhaal, skoonmaak en nuwe doek aansit – BLERTS – weer doek afhaal, skoonmaak en nuwe doek aansit….
Die uitdaging was toe nog nie genoeg nie, want van al die suur doeke en boude skoonmaak het haar boudjies begin seer raak. Nou kon ons nie meer dit afvee sonder dat Anja regtig baie eina het nie. Pappa moes toe maar apteek toe (met die morele ondersteuning van Johan) om vir salfies te vra. Daar kry ons toe die wondermiddel vir brandboudjies. Ek kan getuig dat saam met Telament drops dit die wonderlikste ding is. Anja het letterlik ‘n sug van verligting geslaak toe daai salfies die boudjies tref.
Op daardie stadium het ek al letterlik begin bid dat Anja net asb een stywe drollie moes maak. Net sodat die maagwerkings oor kan wees.
En gister toe kry ek die MMS…. Anja het ‘n stywe drollie gemaak!!!! Ek was nog nooit in my lewe SO bly oor ‘n stywe drolletjie nie. En ek sal nooit weer ontvrede wees oor Anja se normale doeke nie. Want ek weet nou hoe sleg dit kan raak. En natuurlik kan Anja nou weer sonder seer verder gaan.
Hierdie episode was weer ‘n eerste in die konstante leerskool van kinders he. Dis nie maklik nie en mamma en pappa moet maar soms baie hard tong byt om nie opstandig te raak nie. Die huis kry so ‘n donker wolk oor hom en niks is lekker nie. Aldus kinders en maagaandoenings…
Hier is die prettige piekie van Anja se gesonde drolletjie

