Jacques van Zyl se blok?


Pad Maak Vir Hulp
September 17, 2008, 7:43 vm
Filed under: Waarneming | Tags: , , ,

Vanoggend was die N1 Kaap toe weer ‘n gemors. Duidelik dat iemand erens vorentoe probleme beleef. Dis gewoonlik ‘n gegewe wanneer die aasvoelbakkies verby jaag – en veral as daar meer as een verby kom.

Die mooi ding vir my (en dit tref my elke keer) is wanneer ‘n noodvorertuig (vanoggend die Metro nooddienste) deur die verkeer moet sukkel en hulle sirenes van ver af lui en ontsteltenis bekend maak. En dan maak die verkeer oop soos die rooi see voor die voertuig en hy kan voortsnel en hulp verleen.

Daar is iets simpatiek daaraan wanneer vreemdelinge pad gee vir die reddingsvoertuig sodat ‘n ander vreemdeling spoedig gehelp kan word.

Ook het ek vanoggend ‘n “skoon” metro rail trein gesien. Skoon omdat daar geen grafiti aangewend was op die trein se panele nie. Ek weet nie hoe die ander kan lyk nie, maar die pad se kant was skoon. Dit was lekker om dit te sien. Ek hoop dat dit vordering is in die morele waardes van vandale. Want dit sou jammer wees indien die goed nou eers mooi skoon kom om ‘n mooi gesig vir die wereldbeker op te sit.

Of dalk moet mens se, dis darem ‘n goeie ding van die wereld beker. Ons dienste raak noodgewonge beter en kriminele word dalk bietjie vaster gevat. Maar hoekom dan wag tot iets soos ‘n wereldbeker. Hoekom nie daardie waarde onderhou net omdat dit dinge beter maak nie?

Dis beter om die positiewe in dinge te aanvaar as om noodwendig gal oor als te braak – dus: kom ons aanvaar dis die begin van beter dinge en ek hoop die mense wat vanoggend seer dalk gekry het op die N1 gou beter word…

Seen vir jou die leser!

Daars 'n trein...

Daars 'n trein...



Jesus eerste
September 15, 2008, 8:04 vm
Filed under: Geloof | Tags: , , ,

Tydens hierdie naweek het prioriteite weer meer in plek geval. Dit is so maklik om vasgevang te raak in geld, aansien en werk wat ongelukkig meestal tenkoste van jou verhouding met die Here is.

Ek wil dit of dat he. Wat moet doen om dit te kan koop. Dan werk sodat ek dit kan koop. Is ek net so doelgerig in die wil van God?

Lees ek my Bybel genoeg om ook so te dink oor wat Hy wil? Want onthou, dit gaan eintlik oor Hom. En dan as dit oor Hom gaan, gaan dit outomaties oor die ou/(of vrou) langs my. Want wat is die grootste gebod rabbi? Jy moet die Here jou God lief he met als wat jy is, en jy met jou naaste soos jouself liefhe. En ek hou nogal van myself. Ek maak erns daarmee indien daar ‘n stuk ongeruimdheid is in my lewe.

En maak ek erns met ‘n ander ou se ongeruimdheid? Is dit vir my net so erg as hy nie sy lewe rondom Jesus lewe nie?

Dis nie ‘n resies om aardse dinge bymekaar te maak nie. Leer baadjies te dra en ‘n blink motor uit die motorhuis te trek nie. Dis ‘n resies van die ewige lewe. Dis ‘n Comrades marathon. Jy beter stop en die ou langs jou onder die arm vat en help. Die Here verwag dit van jou!

Seen



Anja en “nog ‘n Zuma”
September 12, 2008, 10:30 vm
Filed under: Anja | Tags: ,

Gisteraand het die vrou gaan fliek saam met haar vriendin. Hulle het “Mamma Mia” gaan kyk. Sy was terloops baie opgewonde oor die fliek na haar terugkoms en dus bleik dit ‘n wenner te wees.

Na haar “verdwyn” uit die huis terwyl Anja gebad het, het ons voor die TV beland om “Buzz” te kyk. Dit is Anja se naam vir Toy Story. Elke storie het ‘n naam gebaseer op die karakters. Toy Story is Buzz, A Bugs Life is gogga, Shrek is tannie (verwys dan na die trol fiona) en Ice Age is muis. Die Disney silly simphonies is prentjie.

Terug by die nuusberig… Dit was ‘n berig oor vandag se hofproses in Pietermaritzburg om vas te stel of Mnr Jacob Zuma regmatig aangekla is of so iets. Ek dog toe dis mos nou ‘n goeie tyd om vir Anja ook bietjie te leer van ons politieke leiers. Dus met die verskyn van Mnr Zuma op die skerm, vertel ek vir Anja dis oom Zuma. Nou por ek vir Anja aan: “Sê Zuma, Zuma”. En Anja sê Zuma. Te mooi. Net toe verskyn nog ‘n politieke genoot wat ook sy velkleur deel en Anja sê: “Nog ‘n Zuma”.

Dit was nog een van daai kosbare oomblikies.

Mnr Jacob Zuma dans

Mnr Jacob Zuma dans



Godzilla en ander traumas
September 10, 2008, 2:49 nm
Filed under: Uncategorized

Verlede week was dit chaos in St Helenabaai. Want vir die kalm Sandy Point hawe is branders selfs ‘n vreemdheid. Maar verlede week het daar ‘n vreemde ding aan wal gegaan. ‘n Tsunami. Kan jy dit glo. Hier waar jy nie eens kan bodyboard nie. Wragtag ‘n tsunami.

Darem nie van daai wat huise en mense wegvat nie. Maar steeds genoeg om die nuus te haal en om die hawe te oorstroom.

Maar toe almal dink dis seker dit, toe waai hier ‘n storm wind wat nogal skade ook aangerig het. Hier is ‘n foto wat ek vandag geneem het van die visfabriek waar mense hulle snoeke kan vlek.

Iemand het skertsend kwytgeraak dat Godzilla hier deur was. Lettelik…

Alle grappies eers opsy, daar is mense wat skade beleef het en dit is nartuurlik nooit snaaks nie.  Wys jou net dat jy nie kan se dat daar niks aangaan in St Helenabaai nie!

Godzilla trap gat in roldeur

Godzilla trap gat in roldeur



Kleinie my kind
September 10, 2008, 7:59 vm
Filed under: Uncategorized

Waar in die wereld is Jakie?

Eks nogsteeds ‘n rekenmeester met ‘ n vrou en ‘n kind. Ek werk nogsteeds in St Helenabaai by tye en is nogsteeds lief vir die Here (en dit is my behoud).

Ek wonder nogsteeds oor die lewe en oor lofprysing en oor die ekonomie. Ek het wel lui geraak om te blog en dus stil geraak oor die kuburruimte wat WordPress aan betref. Ek was egter meer aktief by ons rekenaar vliegklub se forum (flightonline.co.za). Ek het intussen my lankverlore liefde vir Die Voortrekkers gevind en weer daar betrokke geraak.

Anja word die 5de Oktober 2 jaar oud en sy is te pragtig. Ek beleef haar al meer en meer veral nou dat sy ook lekker begin praat. Sy kan al kort gesprekkies voer en saam tel en Hansie Slim saam sing. Sy hou van klavier speel en saam met pappa winkel toe gaan. Sy groet al die tannies by die kasregisters en weet dat “jy eers die nanna vir die tannie gee, dan betaal jy die tannie dan gee die tannie die nanna terug”.

MAAR dit is nie die grootste nuus nie…

Na ‘n hele jaar se vra by die Here dat ons gesin vergroot word, gaan ons gesin nou vergroot word. Ja, ons is 6 weke swanger en sal oor twee weke ons eerste kykie kry van Kleinie.

Dis wonderlik hoe die Here regtig beter geweet het (hoe sou ek ooit daaraan kon twyfel), want finansieel was ons in ‘n BAIE slegte plek. Maar ek wil amper se met die uitkoms het ook die aankoms bekend geword. Dankie Here!

My voorneme is om weer aktief hier te blog oor dinge. Meestal natuurlik oor Kleinie se vordering en updates oor Anja en allerlei ander sake.