Jys n pyniging vir my begroting.
Daar gaan my spaargeld weer.
Is dit regtig nodig dat die slim mense jou beloer?
Kan ek nie maar self jou moere kielie nie?
More sal jy my nog vertel,
jou bande het ook aandag nodig.
Nee regtig, dis nie waaroor ons gepraat het,
toe jy vir my flikkers gegooi het op die sypadjie nie.
Onthou jy nog daai dag?
Die son het jou so oor jou bol tenkie gevang.
En die kroom op jou handvatsel was bitter mooi.
Maar dis toe ons daai eerste draai vat,
en die oop pad proe, saam,
dat ek geweet het ons is bedoel vir mekaar.
Ag dis seker nie so erg nie, as jy so daaraan dink.
Jy is reg. Jy is dit werd…

