RSS

WELKOM

Welkom by my BLOG

Hierdie is ‘n versameling van gedagtes, waarnemings en gedigte wat grepies uit my lewe blootlê. Gebruik gerus die kategorie filter hier regs om jou soektog deur my Blog te vergemaklik.

En voel vry om kommentaar te los.

Beter nog, teken sommer in op my blog en kry al die nuwe skrywes in jou epos!

Kyk onder Argiewe om ouer inskrywings te lees of gebruik die katagorie filter hier regs om die inskrywings per katagorie te filtreer.

Groete
Jacques

 
Comments Off on WELKOM

Posted by op Oktober 27, 2011 in Uncategorized

 

Oggendbries

smile.jpg

Seelug, koel,

was jy bedoel

om my verby te gaan

terwyl ek my hand

op arbeid slaan?

 

Soms seen die Heer

sonder keer,

uit die natuur

die gratis siele troos

al is dit net van korte duur.

 

Dan stop ek ‘n wyle, en asem

die seewasem,

glimlag en geniet

die Heer se gawe – verniet.

 
2 Kommentaar

Posted by op November 17, 2016 in Gedigte, Geloof, Waarneming

 

Etikette: , , ,

Harmonie

harmonie

Dis ‘n wonderwerk van frekwensie

van houding, en direksie

as jou oor verklap dat noot en akkoord

by mekaar hoort.

 

Daars vrede en troos

as klanke moeiteloos

saam dans en speel

en my gemoed streel.

 

Net ‘n God kon die wonderwerk

van lief en klank

in ons op laat rank

en maak so ons harmonie Sy kerk.

 
2 Kommentaar

Posted by op November 15, 2016 in Gedigte, Geloof

 

Etikette: , , , ,

Die Samaritaan

samaritaan

In die Bybel lees ons die vergelyking van die barmhartige Samaritaan soos vertel deur Jesus (Lukas 10:25-37). Die storie is wel bekend.

Wat my egter opnuut geraak het met die vertelling is die begin en die einde van die storie; iets wat ek eintlik nooit raak gelees het nie. Die verhaal begin met die wetsgeleerde wat Jesus vra wat hy moet doen om in die hemel te kom, waarop Jesus hom ‘n teenvraag vra oor wat in die Wet staan. Dit was ‘n maklike vraag vir die wetsgeleerde om te antwoord: Jy moet die Here jou God lief met al jou krag en jou naaste soos jouself.

Maar dit was nie genoeg vir die slim man nie, en hy vra verder wie sy naaste dan is. En hierop vertel Jesus die verhaal van ‘n man wat leed aangedoen is deur rowers en hoe ‘n persoon uit ‘n kultuur en godsdiens agtergrond wat die Jode nie aanstaan nie die man help, te midde van hoog geagte kerkmanne wat nie hand uitsteek nie.

En hier is dan die deel wat my laat dink het:

Jesus vra die wetgeleerde uiteindelik – wie dink hy was die naaste van die man wat leed aangedoen is. Die wetgeleerde antwoord: Die een wat aan hom barmhartigheid bewys het. En Jesus sê – maak jy ook so.

Wat my getref het is die klemverskuiwing. Dit het nie gegaan oor wie my naaste is nie, maar eerder wie se naaste ek kan wees. Ons moet liefde en barmhartigheid uitleef. In Matteus 5:44 gooi Jesus ook die appelkar om en sê dat ons ons vyande moet liefhê.

Die samaritaan het nie op grond van die man se stand, kultuur of enige ander maatstawwe besluit of hy wil help nie, hy het net die man gehelp soos hy homself sou help. En die man langs die pad; hy was die ontvanger van liefde en ‘n vreemdeling was sy naaste.

Dus opsommend:

  • Ek moet my naaste liefhê soos myself
  • My naaste is mense wat aan my barmhartigheid bewys (Lukas 10)
  • Jesus wil hê ek moet liefde uitleef – ongegeag, want…
  • … ek moet my vyande liefhê (Matteus 5)
  • … ek moet iemand anders se naaste wees (Lukas 10)
 
Lewer kommentaar

Posted by op Oktober 24, 2016 in Geloof

 

Etikette: , , , , , , ,

Waterpokkies

My liefste Anja meisiekind het vandag haar eerste gedig neergepen. En ek dink dis baie oulik. En aangesien daar so baie van haar op hierdie blog is, van selfs voor haar geboorte tot selfs ‘n foto van haar vuil doek, dink ek dis gepas dat haar skrywe ook die kuburruimte kan betree hier. Geniet hom!

medisyne

Waterpokkies is rooi

dis glad nie mooi.

Medisyne is regtig sleg

dis verseker reg.

Steek die lepel

agter die ketel.

Nou is dit weg

alles is reg.

Ek voel beter

dit is verseker.

Ek gaan nou gaap

lekker slaap.

Kopiereg Anja van Zyl 2016🙂

 

 
2 Kommentaar

Posted by op Augustus 26, 2016 in Anja, Gedigte

 

Etikette:

Bloei

hug_of_support

Wanneer iemand hartseer bloei,

is dit tasbaar, dik.

Iets wat vlees kan voel

en aan kan stik.

Sien hoe swaar dit voete maak

as mooi herinnering ‘n anker raak.

 

Die realiteit van binne seer

wat op mekaar afsmeer.

Iets van menswees, in harmonie:

 

In solidariteit

met die afwesigheid

van vreugde,

en saam in traan,

kan ons mekaar versorg,

en verstaan…

 
Lewer kommentaar

Posted by op Augustus 4, 2016 in Gedigte, Waarneming

 

Etikette: ,

Debiet en krediet

Daar is sekerlik baie te sê oor debiet en krediet. En net dalk is dit genoeg om enige student van Rekeninkunde heeltemal ‘n afkeer te gee in die vak.

Ek lees vandag op Wiki dat die woord debiet en krediet is afgelei van die latynse woorde debere en credere. Debere beteken om te skuld en Credere om toe te vertrou. Dit was interessant om te weet, maar gaan jou na alle waarskynlikheid niks help nie. Veral nie as jy nog op skool is en deur dit moet worstel nie. So, hier is my ppoging om dit in eenvoudige Afrikaans te verduidelik:

Weens die dubbelinskrywing stelsel van rekeningkunde, weet jy darem seker al dat elke debiet moet ‘n krediet hê (soos die ying-yang van boekhou). So wat ookal jy doen, en veral as jy boeke met die hand moet doen, maak seker vir elke debiet is daar erens ‘n krediet van dieselfde waarde. (As jy boekhou met boekhou sagteware sal die program die dubbelskrywing namens jou behartig.)

Nou wanneer is iets debiet en wanneer krediet? Ek onthou dit so: In die Balansstaat (of staat van finansiele posisie) is daar basies twee dele – wat jy besit (bates) en hoe jy daarvoor betaal het (ekwiteit en laste). Dalk het jy al die B = E + L formule erens gesien. Dis presies net dit. Bates is ‘n debiet ding en dus is ekwiteit en laste ‘n krediet ding.

En aangesien die inkomstestaat ‘n opsomming van jou wins en verlies is, en wins en verlies deel van jou ekwiteit of eienaarsbelang is, beteken dit dat jou inkomstestaat dieselfde resep aanneem as jou Ekwiteit – dus ‘n krediet ding. Dit beteken eenvoudig dat jou inkomstes jou wins meer maak, en dus ‘n krediet inskrywing is en uitgawes jou wins minder maak en dus ‘n debietinskrywing is.

Moet tog nie uitgawes probeer parallel met bates omdat beide debiet is nie. Dit gaan jou net deurmekaar maak. Hou by die B = E + L formule.

Kom ons toets die resep:

As ek ‘n bate soos ‘n voertuig in my besigheid koop, word my bate meer en is dit ‘n debietinskrywing (dus die “wat ek besit” deel). Ek betaal of vir die bakkie kontant of met ‘n lening. Die krediet inskrywing (of “hoe betaal ek daarvoor”) sal dus of Bank of ‘n leningsrekening wees. Dalk moet ek jou bietjie deurmekaar maak hier: Bank is of ‘n bate omdat daar geld in die bank is, of dis ‘n las omdat jy ‘n oortrokke saldo het. Die batige saldo sal op twee maniere tot stand gekom het – of omdat jy wins gemaak het of omdat jy geld daar ingestort het uit jou eie fondse. Daardie wins en instort is mos ekwiteit – so indirek dan is jou kredietinskrywing gefinansier erens in die verlede uit ewkiteit (wins of storting). Al goed deurmekaar? Jammer, ek moes net vir deeglikheid die klip in die bos gooi.

Nog ‘n toets:

Jy betaal jou selfoonrekening vir jou besigheid. Die debietinskrywing is ‘telefoon uitgawes’ omdat jou uitgawes jou wins minder maak en die krediet inskrywing sal jou bank wees omdat jou batige bank nou minder geword het of jou skuldlastige oortrokke saldo meer geword het.

Laaste een:

Jy verkoop koekies en ontvang geld vir die kontantverkope: Jou krediet is verkope omdat jou wins meet geword het by die verkope van die koekies. Jou debietinskrywing is dan…??? raaiskoot???

Ja, jou bank. Omdat jy kontant ontvang het, dit ‘n bate is vir jou en dit nou meer geword het.

Ek sal dalk in ‘n ander blogpos vertel wat ‘n bate is, indien jy dalk sou sukkel om te verstaan wanneer iets vir jou ‘n bate is of nie.

Maak dit sin? Los ‘n boodskap in die kommentaar as die verduideliking gehelp het.

 
3 Kommentaar

Posted by op Mei 9, 2016 in Rekeningkunde

 

Etikette: , ,

En nou?

emptycross_webready_31

Vrydag druk die spykers, die trane uit my oë

Saterdag bepeins ek nog die leiding

met nog iets van gister se bewoë.

Sondag vier ons op Skrif fees, die Oorwinning is behaal.

Maandag is die feestelikheid al aansienlik afgeskaal.

 

Dinsdag pak ons die Kruis weg, en voeter voort.

 

 

 
Lewer kommentaar

Posted by op Maart 30, 2016 in Gedigte, Geloof, Uncategorized

 

Etikette: , , ,