Die afdraai na King Edward Straat
En ons as kinders nekke rek
vir ouma se geuwel huis.
Hier was ons altyd tuis.
Die huis was altyd mooi versorg
Met die rotstuin voor
en die silwer geverfde hekkie en heinings.
Wit mure, silwer dak
en die woud van vrugtebome
in die agtertuin.
Ons storm deur die voorhekkie
en rammel slaan die posgaatjie
en loer dan angstig
vir ouma wat slof-slof
oor die plastiek runner met die riffels
vir ons kom groet.
Maar nie voor sy die klein vingertjies
wat steek deur die posgat
vroetel en knyp nie.
Vakansietyd kan ons kom oorslaap
En boomklim
en gate grawe
en eet en speel en kuier.
Dag twee was gewoonlik ‘n oggendwandeling
tot by Pick ‘n Pay onder in die straat.
‘n Lekkernytjie was altyd op die kaarte.
Dan word ons groter
en slaan kuiers by ouma oor
vir huiswerk
en vry
want ons weet nog nie
dat tyd beperk is
en dat ouma nie vir ewig sal leef nie.
En dan gaan die tyd tog verby
En ouma trek
En raak siek
en sterf.
En die huis verval
saam met die herinneringe
van my pa
voor die huis op sy BSA motofiets
as jong man, met die ’55 Chev in die oprit
of oupa Koos wat ek nooit eers ontmoet het nie.
Net die nostalgie bly oor
en wurg nou en dan
‘n traan
as ek onthou…