Dryfhout balk
Uitgespoel
Lê gehawend
Sonder doel
Skrynwerker
bespiet die gawe
Wat daar wag
Wyl ander dit verag
Met sukkel en met tyd
Word die dryfsel
Op sy werksbank neergelê
Die rommelhout wat geen wou hê
En dan met sagte hand
Word dit verwerk
Geskaaf, geskuur
Versterk
Tot die pragstuk meubel
Trots vertoon
Wyl die dryfhout
Steeds homself verloon
“Wie sal dan aansien vind
In ‘n stuk verslete plank
Iets wat sout, water, wind
Verwerp vir so lank.”
Dan word al die meubels
In skrynekatedraal
Kom haal en verpand
Maar die dryfhout prag
Versit nie hand.
“Sowaar, “ dink die dryfhout
“Ek is niks werd, “ (met splintertraan)
“Niemand wil my hê.
Plaas ek in die see vergaan.”
“Nee,” sê die skrynwerker
“Jou voegwerk was met hartsraad.
My siel is in jou gestort,
‘n liefdesdaad.
Die kosbaarste een
Uit my hart ontvou
Het ek voor trou beloof
En vir myself gehou.”