RSS

Category Archives: Waarneming

Die Rooi Roman(ties)

Image

Ek was altyd bewus van die rooi gevaar wat skuil in die bosse van St Helenabaai. Ek het dan selfs eendag een vir ‘n muis misgus een aand by my baas se huis by West Point. Maar toe kom my eerste ‘toe-to-toe’ met ou Rooies…

Ons was omtrent ‘n week in ons nuwe huis. Al my gereedskap het mooi in gelid soos soldate in ons kamer gestaan in die hoek. Aangesien die intrek lekker nog sterk in my was, was ek die hele tyd in en uit die kamer om gereedskap te put vir allerlei regtrek takies in die huis. So gaan dit mos aan tot laat aand. Met hierdie spesifieke tog was ek opsoek na ‘n skroewedraaier.

Nes ek by die kamer in gedraf kom, sien ek ou Rooies teen die muur skraps bo my gereedskapkas. En hy sien my mos toe ook. Hy kry so ‘n parate draai in hom, mik links, en draf teen die muur af tot op die grond, agter die gordyn verby tot agter die spieelkas. Nou ja, as die grootste broek in die huis, moet ek maar my pligte aanvat, met die naaste skoen in die hand. Ek bekruip die spieeltafel versigtg terwyl ek al die ontsnappunte verspiet vir Rooies se moontlike vlug. Maar dit was donker agter die tafel, so ek sal n flits benodig.

Na die flits bron was ek net betyds om ta te sien spoed terug na sy wegtrek hoek oor die mat. Ek het een slinger van die skoen gepoog, maar was te stadig, en te ver. Die skoen rol en spring tot teen die muur omtrent soveel soos ek terwyl gogga agter die bed inhardloop. Ek vind myself en die skoen, Met ‘n spoedige pols en adrenalienpiek is ek vinnig weer terug voor die bed en bespied die muur. Die ding het weer verskyn deur se kant agter die bedlampie teen die muur. Maar toe ek my daardie kant snel, sien hy my dadelik, steek vas, herbesin en draai om terug agter die bed in. Ek was duidelik in die geselskap van ‘n meester.

Nou is ek kat en hy is muis. Gaan hy weer links uitspring of kortpad na die voetenend van die bed hol na my toe. Eks paraat vir al die opsies. Nee, hy kies om links oor die mat terug spieeltafel toe te snel. Dis hier waar my mik en druk op die kol was en ek gooi daai linkerskoen. Kolskoot bons die skoen op Rooies dat hy eintlik so agterna hop en val. Net bene en lyf.

Ek het die rondte gewen, maar ek hou my oorwinning stil, want wie laaste lag doen gewoonlik dit die lekkerste…

 
Lewer kommentaar

Posted by op Februarie 12, 2014 in Waarneming

 

Sleutelwoorde:

Wind

wind

Kerm kla alom.

jaag golwe, brom.

Dra stories straat af op,

oor verdoofde mussie kop.

 

Woed jou deurnag uit

sonder talm of verwyt.

Nog laer die mussie af

as die storie straat af draf.

 

Sluimer dryf na ander dag

sonder om vir wind te wag.

Rus jy maar jou kerm lied.

Begroet dan stil die dag opnuut.

Kopiereg – Jacques van Zyl (2013)

 
Lewer kommentaar

Posted by op Maart 27, 2013 in Gedigte, Waarneming

 

Bedresonansie teorie

Sleep

Ek het gisteroggend ‘n wonderlike openbaring beleef rondom die mens en sy/haar bed. Dit het gevolg na net nog ‘n struwel om my los te skeur van my snoesige omgewing en oor te skuif na die res van die wereld buite die snoes. En hier is wat ek besef het:

  • My bed het ‘n magnetiese uitwerking op my liggaam. Dit is duidelik dat dat soos ‘n magneet ‘n stuk metaal kan magnetiseer met herhaalde kontak, my bed dieselfde doen
  • Die hele proses gebeur deur ‘n tipe resonansie, vandaar die rondraai, opkrul, uitstrek namate jou lyf geslyp word deur die ritme van die bedspringe
  • Wanneer jy absolute resonansie bedreik, dan aktiveer dit jou sinusse wat dan omskakel in snork
  • Die krag van aantrekking is so groot in die oggend, dat die normale mense slegs by wyse van uitskuur of gly van sy bed kan afklim.
  • Slegs mense met abnormale hoë energievlakke kan die aantrekking oorkom en uit die bed spring
  • Jong getroudes op wittebrood beleef dat die persoon langsaan die resonansie steur en dit lei tot slaaploosheid (onderandere 😉   )
  • Die verhoogde aantrekking kan ook lei tot depressie wat klimaks wanneer jy die resonansie harmonie van jou bed en lyf versteur
  • Die aaklige kerm van ‘n bedalarm is ‘n direkte teenklank teen die bedresonansie en lei tot ontwaking en depressie

Dit is my oortuiging dat die bevinding maar as feit gedokumenteer kan word as wetenskaplik korrek vanwee jare se herhaalde eksperimentering met konstante resultate – soos hierbo genotuleer.

Aldus die bedresonansie teorie

 
Lewer kommentaar

Posted by op Maart 13, 2013 in Waarneming

 

Sleutelwoorde: ,

Getuies van Wie 3

Sondagoggend het daar ‘n twee groepies getuies ons kort straatjie genader. Ek was besig in my motorhuis op soek na skroefies vir my kind se speelkrywa en ek kon sien dat hulle nie baie joy kry by die toe deure wat hulle begroet het nie. My buurman oorkant my het hulle kortaf hanteer.

Ek kon dit maak vir die deur, maar het besluit om eerder te draal by die motor opsoek nie iets in die kattebak totdat hulle by my kom. Ek was bietjie op my senuwees.

‘n Jong outjie en jong dame kom staan agter my. Netjies aangetrek in Sondag klere en hy het ‘n arm vol traktaaitjies in die hand. Hy groet my vriendelik en kommentaar dat ek bogal bedrywig lyk. Hierop antwoord ek toe dat ek eintlik maar redelik rustig verkeer. Ek lyk maar net besig.

Hy kom toe dadelik tot besigheid en wil aan my ‘n papiertjie gee oor die Bybel en derglike wyshede. Ek besef toe hy stel homself nie bekend as ‘n Getuie nie en vra hom toe of hulle so is waarop hy Ja antwoord.

Dadelik gaan ek oor in die gebruiklike “nee dankie en stel nie belang nie” sin. Maar hierdie ouens is goed geleer in die al hierdie gebruiklikhede. Maar steeds bly hy vriendelik en beleef. Ek is ook reg vir hom. Ek het mos nie verniet meer as ‘n jaar lank oor hulle navorsing gedoen, gedink, gebid en selfs in hulle eie bybel tekste gaan naslaan en vergelyk met my vertaling nie. Maar die keer het ek besluit om in liefde met hulle te verkeer. Ten spyte van al die ontevredenheid wat ek al oor die saak gekoester het binne by.

Hy verseker my dat hy dit respekteer, maar vra of daar ‘n spesifieke rede is hoekom ek nie belangstel nie. Hierop antwoord ek dat ek baie navorsing gedoen het en self ook n Getuie vriend het waarmee ek al gesels het oor die saak. Maar weereens kom sy opleiding sterk deur. Hy gee toe aan my dieselfde lyn wat my vriend al gegee het naamlik “dat ek nie alles moet glo wat op die internet staan oor die getuies nie – mense versprei leuns oor hulle”. Maar weereens was ek gemaklik voorbereid. Ek verseker hom dat ek beslis nie by een opinie vasgehaak het nie. Dat ek baie opgelees het en die feite oorweeg het en dat ek nie gaan oor iemand se opinie nie, maar oor teologie verskille waarmee ek nie saamstem nie.

Dit was vir hom genoeg en hulle groet my vriendelik. En dan die stukkie wat vir my nogal baie beteken. Hy bedank my toe vir my vriendelikheid en dat ek hom nie verjaag het nie. Ek wens hom ‘n mooi dag verder en hulle stap aan.

Wat neem ek hier uit:

  • Ons as Jesus aanbidders MOET in liefde met alle mense saamleef – ook die Getuies (alhoewel Jesus vir hulle “baie belangrik is” – nog ‘n basiese Getuie lyn – Jesus is nie net vir my baie belangrik nie, Hy is ons ALLES!!). Dit het ek onlangs in die boek Judas weer geleer (gaan loer by Judas vers 20 (daar is net een hoofstuk in die boek))
  • My hoflikheid is n groter getuie aan hom oor wat ek glo as enige poging tot ‘n Bybel kennis aanval
  • Hulle is baie goed opgelei in die kuns van straat bediening en konfrontasie – jy sal hulle nie “convert” so nie
  • Dis nogal snaaks dat hulle nie besef dat ons as nie-Getuies een en een bymekaar kan sit oor hoe hulle glo nie, en dat ons nie almal gedryf word deur n blinde haat vir n naam sonder enige kennis van wat hulle glo nie. Ons kan lees en ons kan verstaan wat hulle glo en dat dit in stryd is met ons glo van Jesus.

Dit was ‘n goeie belewenis. Ek moedig almal aan om soortgelyk op te tree. Onthou, jy moet steeds lief bly vir die mens, dit is wat hy/sy glo wat jy versigtig moet wees voor.

 
Lewer kommentaar

Posted by op November 9, 2011 in Geloof, Waarneming

 

Sleutelwoorde: ,

NG KERK Persverklaring oor Kerk en Wetenskap

Hierdie skrywe is gesirkuleer deur die Algemene Sinode se Moderamen van die NG Kerk…

27 Julie 2010 PERSVRYSTELLING: KERK EN WETENSKAP

Na aanleiding van mediaberigte en internet-gesprekke, waaraan die verhouding tussen die kerk en wetenskap onderliggend is (en waarby Prof Piet Strauss betrek word) wil die Algemene Sinode se Moderamen (dagbestuur van die sinode) graag die jongste standpunt van hierdie vergadering oor hierdie saak, soos wat dit in Junie 2009 geneem het, stel:

 “Die vraag oor die aard van die verhouding tussen kerk en wetenskap speel van tyd tot tyd onderliggend ‘n bepalende rol in die lewens van ons lidmate, waar hulle hulself ook al bevind in die diverse sektore van ons samelewing. Dit is dan dat standpunte en argumente oor onderwerpe soos die evolusie (teorie oor die ontstaan van die mens), die oerknal (teorie oor die ontstaan van die skepping), en ander sake soos die invloed van gebed op (byvoorbeeld) ren, klimaatsverandering en dies meer, dikwels tot onverkwiklike gesprekke lei.

Dit l‚ ten grondslag van die Gereformeerde tradisie dat onderrig en opvoeding, ook ten opsigte van die volle spektrum van die multidissiplin‚re wetenskap, deel is van die kerk se roeping om sy lidmate te begelei tot verwondering oor die God van hierdie skepping/heelal, soos wat ons dan ook gereeld gelowig oor Hom bely.

Alhoewel dit anders is as God se openbaarmaking deur Jesus Christus, is sy skepping ook ‘n bepaalde openbaarmaking van die misterie en wonder van God self. Die onvermoeide wyse waarop die kerk dan ook in sy geskiedenis die inisiatief geneem het tot die oprigting van skole en ander opvoedkundige inrigtings, is prakties tekenend van hierdie wedersydse respek tussen geloof en kennis.

As sodanig ondersteun of onderskryf die kerk nie noodwendig bepaalde wetenskaplike teorie nie – is hy trouens nie bevoeg om daaroor enige gesaghebbende uitspraak te maak nie. Ons beskou dan ook nie die Bybel as ‘n handboek wat vir ons allerlei wetenskaplike uitsprake maak wat buite hierdie bundel geskrifte se historiese konteks l‚ nie. Juis omdat ons respek het vir die teks van die Bybelse geskrifte, het ons respek vir die historiese konteks waarin hulle ontstaan het.

Wat die kerk wel ondersteun en bely, is ‘n bepaalde geloofsuitspraak, naamlik dat God die Skepper van hemel en aarde (heelal/veelal) is. Wat is, het nie maar toevallig en spontaan gebeur nie. Oor hoedat hierdie skepping egter tot stand gekom het, asook die komplekse aard van al die wetmatighede waarbinne hierdie proses van skepping plaasgevind het en nog steeds ontwikkel en funksioneer, kan ons as gelowiges ons net verwonder, veral namate die verskillende wetenskaplike dissiplines dit verder aan ons ontvou.

Dit is daarom jammer dat daar dikwels vanuit beide die kerklike, sowel as die wetenskaplike kontekste, uitsprake gemaak word wat dui op ‘n onverkwiklike stryd tussen kerk en wetenskap, asof beide nie bepaalde uitdrukkings kan wees van God se onbeskryflike grootheid en mag nie.

Die NG Kerk sal graag vanuit hierdie perspektief wil deel wees van die gesprek tussen kerk en wetenskap – en ons daardeur laat begelei in die hantering en beoordeling van sake wat met hierdie verhouding verband hou.”

Hierdie verklaring word ook deur die kerk se elektroniese kommunikasie-netwerk aan alle predikante en kerkkantore gestuur.

Dr JJ Gerber

Algemene Sekretaris van die NG Kerk

 
Lewer kommentaar

Posted by op Julie 28, 2010 in Waarneming

 

Ekonomiese poef

Vanoogend in die stort bedink ek ekonomie vanuit my beperkte teorie kennis en praktiese belewenisse. Die volgende stelling (wat heel moontlik NIE die voetnota van ‘n dagboek sal haal nie) flikker by my op :

” As winsgewendheid in die ekonomie ‘n mens was, dan was inflasie die poef.”

Dit word vir my al hoe meer duidelik dat die beginsel van verkoop ‘n item vir die prys wat mense bereid is om te betaal in plaas van gekoppel aan jou insetkoste in sekere omstandighede mildelik bydrae dat rykdom en tegnologie nie geredelik beskikbaar is vir ‘n groter groep van die mensdom nie. Hoe meer die produk ‘n niche mark betree, soveel meer die realiteit hiervan.

Die bloeddorstige najaag van wins mag dalk net soveel suur as soet inhou (dalk meer suur as soet). Dit is jammer die mens kan nie balans handhaaf nie…

 
Lewer kommentaar

Posted by op Julie 12, 2010 in Waarneming

 

Trauma vir die siel

Dis baie oulik soms die goed waaraan mens dink tydens jou vertoef in spitsverkeer.

Vanoggend dink ek daaraan hoe vreemd dit is dat ‘n mens se siel op ‘n manier kon vasheg aan jou vlees en die kombinasie ‘n mens maak. En dan hoe die mens se vlees in ‘n mooi gebalanseerde status van gesond is. Wanneer iets die balans ontwrig, raak die lyf siek en kan dit selfs sterf. Op daardie stadium is die trauma vir die siel/vlees kombinasie te erg en die gees skei van die vlees en gaan die ewigheid in – vleesloos.

Dit laat my nou dink dat as ons na ons self verwys as gees, dan is ons vlees eintlik soos ‘n “tronk” vir die gees. ‘n Plek waar jy eintlik vasgevang is met al sy goed en sleg. En dan word jy eers verlos en vry verklaar die dag as jy dood veklaar is – hetsy met of sonder trauma. Na jou dood treur mense oor jou heengaan – jou gees en jou vlees wat weg is – dis tog die kombinasie van die belewenis wat mense van jou onthou – jou aanraking en jou persoonlikheid.

Dink net wanneer ‘n mens in ‘n ongeluk sou wees (dis eintlik hoe ek aan die gedagte gekom het – ek het agter ‘n Mac Steel vragmotor gery en gekyk na die staal pype wat agter op die bak gele het – en indien van daardie pype sou afgly en my tref…) en jou lyf kry so seer dat dit net nie meer jou gees kan huisves nie – amper soos ‘n uitskietstoel. Wees vry voor jou ook sterf. Boef – die ewigheid in.

Gisteraand in die aanddiens het ons Ds gepraat oor hoe ons eintlik baie meer bewus moet wees oor die realiteit van die duiwel se wrede aanslag op ons daagliks, en dat die wapenrusting nie net ‘n oulike vergelyking is nie, maar ‘n realiteit. Ons is gees en vlees. Jy het ADT en die Here nodig, want jy word op albei fronte bedreig!

 
Lewer kommentaar

Posted by op Junie 7, 2010 in Geloof, Waarneming

 

Boonlike alias

Ek is op Think Bike se forum betrokke, en soos dit enige goeie forumer betaam, moet jy ‘n noemnaam (nick) en ‘n avatar he waarmee mede forumers jou mee kan assosieer. So het ek met die inteken by Think Bike gewonder oor die een.

Aangesien ek ‘n rekenmeester van beroep is (of dan Bean counter), het dit vir my logies gevolg dat my noemnaam Bean moet wees. En dan sou ‘n goeie avatar juis ‘n boontjie wees.

Dus, met die hulp van MS Paint kom toe in die lewe… BEAN!!!

 
Lewer kommentaar

Posted by op April 8, 2010 in Waarneming

 

Avatar Pandora toe!

Ek het lyk my onder ‘n klip gewoon sedert middel Desember 2009. Want ek het geweet van ‘n film met die naam Avatar, maar het nie eens geweet waaroor dit handel nie. Tot verlede week, toe ek gehoor het jy kan dit in drie dimensies kyk. Ek het dadelik vir my en my vriend Cobus kaartjies bespreek en kinderlik gewag tot gister namiddag om dit te gaan kyk. Gelukkig vir my beskik Tyger Vallei se SterKinekor oor ‘n 3D projektor stelsel bedryf.

Al wat ek gehoor het oor die film was dat mense het vir “aliens” gaan help beklei op hulle planeet.

EN WATTER UNDERSTATEMENT WAS DAAI NET NIE.

Die film is eenvoudig net briljant – en die bril het beslis bygedra tot dit! Dit was ‘n pragtige avontuur van die begin af met ‘n baie mooi storie en fantastiese effekte en karakters en landskappe. Hierdie is BESLIS by verre die beste film belewenis wat ek nog gehad het.  nog in 3 dimensies. Hoe het ek die oorlog oorleef!

Ek gaan niks oor die storie vertel nie – want jy het dit of al gesien, of jy gaan dit nog wil sien. Weet net dit – BRILJANT!!!!!!

Ek sit vandag in my kantoor en mis die karakters…

 
Lewer kommentaar

Posted by op Februarie 4, 2010 in Waarneming

 

Jou biker jy…

Ek het redelik onlangs begin motorfiets ry. Nie weens ‘n tekort aan wil nie. Dit was nog altyd ‘n droom van my van kindsbeen af. Maar weens my ma se vrees vir om in die Conradie Hospitaal te beland, het dit nooit gerealiseer nie. Maar verlede jaar het ek besluit dis tyd.

Ek het my leerlingslisensie vir motorfietse bo 125cc gaan skryf die week net voor klein Jacques se geboorte. En so op my vriend Cobus Honda CBX250 Twister op NG La Rochelle se gronde geleer ry. Junie maand verlede jaar het ek egter besluit dis tyd vir my eie wiele, en so koop ek toe ook vir my ‘n Twister – ‘n rooi ene…

Ek dit vir drie maande besit voordat ek besluit het ek het iets meer nodig – die fiets is te lig. So het ek na ‘n harde gevryery agter ‘n Harley Davidson Sportster 1200 Custom, vir my ‘n silver 2005 Honda VFR 800 VTec gekoop. Dit is ‘n lieflike fiets voorwaar. Die mense by Honda Kaapstad het dit nogal baie snaaks gevind dat ek letterlik drie maande later my splinter nuwe CBX (met net 800km op die ODO)  inruil vir die VFR.

Die nuwe swaarder fiets het nie sonder stampe en stote gekom nie. ‘n Week nadat ek dit gekoop het, het ek die fiets reg voor Honda se deur laat omval en so die linker spieeltjie afgebreek. Gepraat van ‘n laagte punt. EN die vrou se toorn tuis was NOG erger.

Maar ek en Ventura (die VFR se naam) verstaan mekaar nou baie goed en is ons soos vinkel en koljander. Ek tik haar so op die tenk na elke rit om dankie te se. ‘n Regte voorslag op die pad!

Maar die storie is eintlik oor my buurman. Gister aand kom hy die eerste keer na my toe sedert ek die fiets gekoop het om vir my te vertel hy was ook ‘n “biker” op sy dae. En so vertel hy my die stories van hoe hy met sy bike rondgerits het en biker klub vergaderings bygewoon het by die Kilarney Hotel. En hoe sy klub presedent gate in sy motorfietse se enjin blik geskiet het nadat hy ‘n “bearing” gegooi het.

Die ironieste vir my was hoe hy een oomblik vertel van met yster goons in jou sak ry en dan as die motorbestuurder jou probleme gee, die goons op die pad te gooi sodat dit sy windskerm breek. En dan net daarna spreek hy sy verwondering uit dat mense nie van “bikers” hou nie…

Ek het maar stil gebly en hom begaan. Want jy sien, ek is seker maar net ‘n “commuting motorcyclist”. Ek ondersteun Think Bike en dra ‘n helder geel oorjas met die Think Bike logo daarop. Ek ry in die spoedgrens en gooi nie goons op die grond of slaan mense se spieels nie. Ek gebruik my flikker voor ek bane verwissel en ek se dankie vir mense wat vir my beweeg spasie gee. Ek “lane split” stadig en gee motors spasie wanneer hulle voor my baan wil verwissel.

So in kort dan, mens kry drie tipe motorfiets ryers:

  1. Die geharde bikers wat kwaai is en hulle eie beskerm en leef op sy motorfiets
  2. Die entoesias wat ry geniet en ook werk toe ry op sy fiets
  3. Die werk toe ryer bloot omdat dit goedkoop is.

So wanneer jy weer ‘n motorfiets ryer sien, moenie dadelik dink die ou is ‘n maniak nie. Hy kan dalk maar net oppad wees van die winkel af omdat hy panado stopies vir sy kleintjie by huis moes gaan koop…

Ek en my Ventura!

 
Lewer kommentaar

Posted by op Februarie 3, 2010 in Waarneming